Abstrak. Spioenasie Suid-Afrika. Die Meisie van Pretoria, Agnesia Sadler. Intelligensiegevallestudies, Henning van Aswegen. Intelligensiegeskiedenis. Intelligensiekunde.
Een van die skadelikste sekerheidsbreuke in Suid-Afrika se intelligensiegeskiedenis het in die middel 1980’s by die Nasionale Intelligensiediens (NI) se streekkantore in Londen en Washington plaasgevind. In daardie jare was Suid-Afrika in ’n sterk wurggreep van omvattende ekonomiese sankies en onder ’n internasionale vergrootglas weens etlike nuuswaardige gebeure. Dit sluit ’n 1988 abortiewe staatsgreep in die destydse selfregerende staat Bophuthatswana in; ook Barend Strydom (bekend as Wit Wolf) se terreuraanval op 15 November 1988 op Strijdomplein in die middestad van Pretoria, waartydens agt mense gedood en 16 ernstig gewond is. Binnelandse terreurinsidente was aan die orde van die dag, en onsekere vredesamesprekings tussen Suid-Afrika, Angola en Kuba oor die toekoms van Suidwes-Afrika. Die Suid-Afrikaanse Regering moes ook rekening hou met die ondertekening van die New Yorkse vredesakkoord op 22 Desember 1988, en die aanvaarding van Resolusie 435 wat die onafhanklikheid van Namibië tot gevolg gehad het.
In dié onstuimige tyd was Agnesia Sadler ’n Buitelandse Assistent onder vlak diplomatieke dekking in Londen en Washington DC waar sy administratiewe, finansiële en kriptografiese ondersteuningsfunksies in die NI se buitelandse streekkantore verrig het.
Die lewe van ’n Buitelandse Assistent (BA)
’n Buitelandse Assistent is nie normaalweg by enige operasionele of taktiese intelligensiewerk betrokke nie. Daarom sou Agnesia Sadler nie kennis dra van die identiteit van bronne en agente en hul toegang tot intelligensieteikens hê nie. ’n Buitelandse Assistent dra wel kennis van bronne, agente se kodename en numeriese kodes, en hoeveel geld (indien enige) aan hulle betaal word. In uitsonderlike gevalle is hierdie assistente as ondersteuningsagente vir agenthanteringsoperasies gebruik, byvoorbeeld om dooie uitskakels (dead drops) te laai en ontlaai, briewe te pos, posbusse wat in vals name geregistreer is leeg te maak, of geld in valsnaam-bankrekeninge in te betaal.
Buitelandse Assistente wat in Suid-Afrika se ambassades werk, verdien oor die algemeen baie meer geld tydens hul tydperk oorsee, as in Suid-Afrika. Dit het Sadler in staat gestel om haar familie in Pretoria finansieel te ondersteun en self ‘n gemaklike lewe te lei. Sy was met ander woorde in ‘n bevoordeelde posisie, met die meegaande aansien dat sy deel was van die personeel van ‘n Suid-Afrikaanse diplomatieke missie in die buiteland.
Ten spyte van deeglike opleiding, was Sadler onvoorbereid vir die sosiale en politieke druk wat met ’n diplomatieke lewe in Londen en Washington gepaard sou gaan, en die meegaande glanslewe van skemerkelkies by die Ambassade, en die geleentheid om te reis en in Europa en die VSA vakansie te hou.
Van Pretoria na Londen
Sadler was van Augustus 1983 tot 1985 in Londen gestasioneer. Hier het sy ’n vriendskapsverhouding met ’n kelner van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) aangeknoop en gou-gou was die twee ‘n paartjie. Haar NI-kollegas het hul kommer oor die verhouding uitgespreek, maar Sadler het nogtans daarmee voortgegaan. Wanneer die kelner Londen toe gevlieg het, het sy hom oorlaai met duur geskenke, vir etes by duur restaurante betaal en ook geld aan hom geleen.
Sy het by die destydse British Telecom en ook by klerewinkels buitensporige skuld gemaak wat sy later nie meer kon betaal nie. Dit het veroorsaak dat eisbriewe en dagvaardings aan die Suid-Afrikaanse ambassade op Trafalgarplein beteken is.
Haar kollegas was deeglik bewus van en bekommerd oor haar onvermoë om met geld te werk. Haar optrede was in direkte konflik met die finansiële take en funksies wat sy in die Londen-kantoor van die NI verrig het, want sy het presies geweet watter agente en bronne vir Suid-Afrika se intelligensiediens in Londen gewerk het en hoeveel geld aan hulle betaal is.
Terselfdertyd is die Streekverteenwoordiger (die hoof van die NI-kantoor in Londen), wat in die middel 1980’s met die verwysing 09 gefunksioneer het, uitgeloop en sodanig gekompromitteer dat hy nie met sy normale intelligensiebedrywighede kon voortgaan nie. Die terminilogie ‘uitgeloop’ beteken bloot dat ‘n spioenmeester of spioen deur ander intelligensiedienste as ‘n spioen uitgeken en geïdentifiseer is.
Hoewel Sadler vermoedelik eers later deur die Federal Bureau of Investigation (FBI) in Washington as agent gewerf is, het hierdie voorval personeel by die NI- hoofkantoor in Pretoria agterdogtig gemaak oor haar persoonlike bedrywighede. Haar geldsake was boonop ’n groot bron van kommer vir die NI, omdat haar persoonlike skuld in ’n stadium meer as £1 000 beloop het – geld wat sy nie gehad het nie. Nadat haar geldprobleme aan die lig gekom het, is sy in Junie 1987 met spesiale vergunning na ’n ander buitelandse kantoor van die NI, dié keer in Washington in die VSA, uitgeplaas.
’n Aanloklike prooi
Sadler het ’n buitengewone geheue gehad, veral wat name en syfers betref – ’n eienskap wat haar ’n aantreklike teiken vir werwing deur vyandige intelligensiedienste kon maak. Boonop was Sadler baie afhanklik van aandag en dus ’n aanloklike prooi vir manlike toegeneëntheid. Intelligensiedienste gebruik juis sulke kwesbaarhede wanneer hulle ’n persoon as ’n geheime agent of dubbelagent wil werf.
In Washington was Sadler ’n alleenloper wat nie maklik ander mense in haar vertroue geneem het nie. Sy het hegte vriendskapsverhoudinge met die res van die personeel in die NI-streekkantoor vermy, en dikwels alleen werk toe gery. Haar spandabelrigheid het egter vinnig weer kop uitgesteek. Sy het ’n nuwe motor op skuld gekoop en ingeskryf vir ’n duur rekenaarkursus wat duisende dollar gekos het.
Mettertyd het dit aan die lig gekom dat sy haar latere kêrel, Gino, by die rekenaarkursus ontmoet het. Hy was ’n jong, voortvarende Amerikaner en het gou by haar in haar woonstel ingetrek. Hy het haar ook aan sy broer voorgestel en kort daarna het hulle haar saamgeneem na ’n vergadering met ’n vrou wat haarself as ’n verteenwoordiger van die Amerikaanse Departement van Binnelandse Sake voorgedoen het. Dié amptenaar was in werklikheid ’n werknemer van die FBI – die Amerikaanse Federale Speurdiens.
Hierdie ontmoeting het die werwing van Agnesia Sadler as ’n agent vir die FBI, ingelui. Kort hierna het die FBI vir Sadler oorreed om vir politieke asiel in Amerika aansoek te doen.
Agnesia Sadler “verdwyn”
Toe Sadler se kantoorhoof in Washington en haar kollegas onraad begin vermoed, is sy nie meer toegelaat om die kriptografiese versending van geheime boodskappe te doen nie. Sensitiewe politieke en operasionele inligting is ook van haar weerhou.
Sy het agtergekom dat haar kollegas haar nie meer vertrou nie en het in Junie 1988 eenskalps “verdwyn”. Van haar kollegas het hulle na haar woonstel in Chevy Chase, ’n voorstad in die Noordweste van die stad gehaas, maar dit was reeds ontruim en daar was geen teken van Sadler nie. Ambassadepersoneel is deur lede van die Washington DC Metropolisie ingewag en gevra wat hulle daar soek. Uit die Metropolisie se optrede was dit duidelik dat hulle vooraf gewaarsku is, waarskynlik deur die FBI. Ambassadepersoneel is ook inderhaas na Gino se woonstel, maar kon geen spoor van Sadler of Gino kry nie.
In ’n poging om die aangeleentheid in perspektief te plaas, het die NI tot die gevolgtrekking gekom dat die FBI ’n geleentheid gesien het om Sadler se verhouding met Gino uit te buit. Sadler het op die ingewing van die oomblik besluite geneem – sy was onder haar kollegas bekend as ‘n onsekere en onvoorspelbare persoon. Haar verhouding met Gino was die katalisator vir haar besluit om nie na Suid-Afrika terug te keer nie. Sy het geborge gevoel by Gino, en die sekuriteit van ’n verhouding met hom het uiteindelik swaarder geweeg as haar lojaliteit teenoor Suid-Afrika en haar werkgewer.
Sadler word as persona non grata verklaar
In 1988 en 1989 het die Hoofdirektoraat Teenspioenasie van die NI ’n omvattende ondersoek gedoen na die omstandighede en redes wat daartoe gelei het dat Sadler haar land en kollegas aan die FBI uitverkoop het. Uit die verslag was dit duidelik dat al die NI se intelligensie-operasies, insluitende die identiteite van al hul bronne en agente, waarskynlik gekompromitteer was.
Gevolglik is Agnesia Sadler deur die Suid-Afrikaanse regering as persona non grata verklaar. Twee NI-beamptes is na haar ouerhuis in Pretoria gestuur om ’n amptelike brief in dié verband aan haar verbaasde familie te oorhandig. Ten spyte van hierdie gebeure en die feit dat die FBI kwansuis ’n intelligensie-skakelvennoot van die NI was, het die NI en die FBI nooit kontak oor Sadler gehad of enige korrespondensie daaroor uitgeruil nie.
In die 1980’s het die FBI ook ander pogings aangewend om personeellede (veral sekretaresses en administratiewe personeel) van die Suid-Afrikaanse Ambassade in Washington DC as agente te werf. In die intelligensiewêreld bly dit altyd waar dat daar geen vriende is nie, slegs mededingers en vyande.
In 1991 het dr. Niël Barnard, toe die Direkteur-Generaal van die NI, ’n gesoute lid van die Hoofdirektoraat Buitelandse Operasies na Washington gestuur om ’n gesprek met Sadler aan te knoop. Sy was egter nie ten gunste daarvan om na Suid-Afrika terug te keer nie en bevind haar, sover bekend, vandag nog in die VSA .
mitzmotors1@gmail.com As a retired member of SAPS at the age of 60- (since 31Jan.2016) and a former member of the SAPS VIP unit serving as bodyguard for varios old and new dispensation ministers & Presidents local and abroad and later in SAPS HQ as liason officer for the National Commissioner of SAPS. I still have contact with ex members of NI and in fact is part of a social group that still gets together regularly. I have a keen interest on these subjects and will apreciate reading yourinteresting stories of this nsture.Greetings – Leon Engelbrecht
–