Petronel Fourie (Weet-aanlyn)
![](https://nongqaia9922150f9.blob.core.windows.net/blobnongqaia9922150f9/wp-content/uploads/2025/02/Petronel-Fourie-920x1024.jpg)
Op 1 Februarie 1920 is die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) amptelik gestig. Dit is die tweede oudste lugmag in die wêreld, naas die Royal Air Force en het ‘n roemryke geskiedenis.
Die aanloopbaan
Die aanloop tot die lugmag se stigting het egter agt jaar vantevore al begin. In 1912 besef generaal Jan Smuts die behoefte en noodsaaklikheid van ‘n lugmag vir militêre doeleindes in Suid-Afrika. Hy stig toe ‘n vliegskool naby Kimberley en in 1913 begin die opleiding. Aanvanklik was dit net ‘n beginnerskursus, waarna die uitblinkerstudente na Brittanje gestuur is vir verdere opleiding.
2 Junie 1914 was ‘n geskiedkundige dag, want op daardie dag het die eerste Suid-Afrikaanse militêre vlieënier gekwalifiseer.
Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Julie 1914 stig die Unie Weermag die sogenaamde South African Aviation Corps (SAAC) met die oog op verdediging. Vliegtuie is vanuit Frankryk aangekoop en ‘n lughawe in Walvisbaai in die destydse Duitswes-Afrika, nou Namibië, opgerig. Van 1915 af kon vliegtuie vandaar aan die oorlog deelneem. Eers is vliegtuie gebruik om pamflette oor gebied te strooi, maar later is bomme en handgranate op kreatiewe maniere met die hand op Britse vyande afgegooi.
Na die Eerste Wêreldoorlog het Brittanje surplusvliegtuie en voorraad aan verskeie Statebondlande geskenk en Suid-Afrika het 113 vliegtuie ontvang.
Die lugmag styg op
Hierna word kolonel Pierre van Ryneveld aangewys om’n lugmag te vestig en op 1 Februarie 1920 word die Suid-Afrikaanse Lugmag as deel van die nasionale weermag in Pretoria gestig. Hul Latynse leuse is Per Aspera ad Astra, wat “reik na die sterre”, of “deur ontberings na die sterre” beteken.
Pierre van Ryneveld was ʼn lugvaartpionier en ʼn sterk leier. Hy het die respek en lojaliteit van die Unie se verdedigingsmag afgedwing. Hy het baie eerstes in lugvaart bereik, soos om die eerste mens in Suid-Afrika te wees wat met ʼn valskerm gespring het.
Die lugmag se eerste belangrike optrede was in Maart 1922 tydens die mynwerkersopstand, toe hulle geboue moes bombardeer waarin die mynwerkers geskuil het. Daarna was hulle in verskeie oorloë betrokke en het vrees en respek afgedwing met hulle uitsonderlike dapperheid en vernuf.
In die Tweede Wêreldoorlog het SALM ‘n sleutelrol gespeel, veral tussen 1941 en 1943 in die noorde van Afrika. In daardie tyd is 342 vyandelike vliegtuie aangeval en vernietig. Hoewel SALM hoofsaaklik ‘n vrywillerskorps was, het dit spoedig in ‘n formidabele vegmasjien ontwikkel met die reputasie van betroubaarheid.
SALM was die enigste Statebond-lugmag wat nie “Royal” vooraan hul naam gevoeg het nie en ook nie onder die Royal Air Force (RAF) se kenteken gevlieg het nie. Hulle het hul eie blou, wit en oranje kenteken ontwerp, wat bekend sou word op die wêreldverhoog. Talle SALM-lugspanne is na RAF-eskaders gesekondeer, waar hulle in hul SALM-uniforms diens gedoen het, en RAF-lugspanne is deur SALM opgelei as deel van die gesamentlike lugopleidingskema wat in Junie 1940 van stapel gestuur is. Suid-Afrika en Brittanje se lugpersoneel het dikwels skouer aan skouer gewerk.
Teen die einde van 1944 het SALM 35 operasionele eskaders regoor Afrika en Europa gehad.
![](https://nongqaia9922150f9.blob.core.windows.net/blobnongqaia9922150f9/wp-content/uploads/2025/02/SALM-gedurende-die-Tweede-Wereldoorlog-1024x599.jpg)
SA Lugmanpersoneel met die oorblyfsel van ‘n Duitse vegvliegtuig wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afgeskiet is.
Aksie in Angola
Tydens die Grensoorlog tussen 1966 en 1989 het die Suid-Afrikaanse Lugmag hom as van die beste ter wêreld onderskei en was aktief by oorgrensoperasies en bystand aan grondaanvalle.
Die legendariese vegvlieënier kolonel Cobus Toerien onthou die dag van 5 Oktober 1982 as ‘n hoogtepunt in sy lugmagloopbaan. “Dit was die tweede luggeveg teen die Angolese Mig 21-vegvliegtuie met Kubaanse vlieëniers. Ek was die nommer 2 saam met Johan Rankin – hy het ook die eerste Mig afgeskiet – in ons Mirage F1CZ-vliegtuie vanaf Ondangwa.
“Johan was die leier en voor na die onderskepping in Angola naby Cahama. Hy het toe twee missiele afgevuur, maar net een daarvan het ligte skade aan die een vyandelike Mig veroorsaak. Toe vuur hy die 30 mm-kanonne en beskadig die ander Mig ernstig – sy tweede Mig Kill. Ek kon nie in ‘n posisie kom om ook te skiet nie, ‘n groot teleurstelling na al die luggevegopleiding, maar dit was steeds ‘n hoogtepunt omdat ek die geveg van agter kon beskou, onderwyl ek seker gemaak het dat ander Migs ons nie van agter aanval nie.”
Luitenant-generaal J.P.B. van Loggerenberg, wat in 1990 hoof van SALM was, het die lugmag se diens, opoffering en heldemoed tydens die Grensoorlog geprys. “Ons vlieëniers is met ‘n lugverdedigingstelsel gekonfronteer wat uit die mees moderne radars, missiele en gewere ter wêreld bestaan het. Die feit dat daar nie meer sterftes was nie, getuig van die vaardigheid en moed van ons lugspanne, wat so dikwels oor vyandige gebiede moes vlieg.”
![](https://nongqaia9922150f9.blob.core.windows.net/blobnongqaia9922150f9/wp-content/uploads/2025/02/Spotty-in-die-lug2.jpg)
Gedenk die dapperes
Die Suid-Afrikaanse Lugmaggedenkteken is in Pretoria opgerig om alle lugmaglede wat hul lewens in oorlogstyd én in vredestyd in diens van die lugmag verloor het, te vereer. Pierre van Ryneveld se as word ook daar bewaar.
Na 1990 het SALM begin kwyn en talle vliegtuie is buite aksie gestel. Vir Toerien is dit hartseer dat die lugmag ná die Grensoorlog agteruitgegaan het, maar hy dink met trots en respek terug aan sy lugmagdae.
“Die SALM was op ’n stadium per kapita, in verhouding met die land se bevolking en begroting, een van die vyf bestes ter wêreld, met uitsonderlike gevegsvermoë en kundigheid! Die roem strek vanaf die Tweede Wêreldoorlog tot die Koreaanse Oorlog en die Angolese konflik. Dit is ons geskiedenis, een waarin so baie gesneuwel het vir die vrede wat ons steeds ervaar!”
Gelukkig is baie van die vlieëniers se stories en ervarings neergeskryf. Vertellings van SALM-lede se wedervaringe is te vinde in die boek Warriors of the Sky: Springbok air heroes in combat, deur Peter Bagshawe. Nog ‘n boek wat met behulp van baie foto’s die lugmag se storie vertel, is The South African Air Force at War, deur Martin Louw en Stefaan Bouwer.
![](https://nongqaia9922150f9.blob.core.windows.net/blobnongqaia9922150f9/wp-content/uploads/2025/02/Lugskou.jpg)
Danksy boeke soos is dié is lugmag se 104 meestal glorieryke bestaansjare vir die nageslag opgeteken. Nou is dit daardie nageslag se verantwoordelikheid om die geskiedenis te bewaar. Een goeie manier om dit te doen, is om as vrywilliger by die lugmagmuseum aan te meld en die hedendaagse stof letterlik en figuurlik van ons vliegtuie af te stof, sodat hul skitterende storie vir almal sigbaar is.
*Petronel Fourie is ‘n vryskutjoernalis en -taalpraktisyn. Sy het tale, joernalistiek en geskiedenis aan UP geswot en leef sedertdien haar passie vir Afrikaans en erfenis deur haar taalwerk uit. Sy is ma van drie seuns en ‘n babadogter, wat haar op haar tone en op haar knieë hou. Wanneer sy eendag die tyd het, wil sy ‘n historiese roman skryf. Petronel se adres vir opdraggewende werk is petronel28@gmail.com.