Chris Botha

“Man, daardie verdomde geweer het neergekletter. Die ding het nie net gewoon geval nie. Hy het neergekletter. Die R1 se loop was met ‘n bakeliet-omhulsel beskerm. Ons het diѐ beskermer se skroefies ietwat losgedraai. Wanneer jy dan die drilbewegings uitvoer het die klap van hande op die bakeliet die mense mateloos beїndruk. Die man se val was nie ‘n plofslag nie, dit was ‘n gekletter”.

Aan die woord is Sebastiaan Jakobus Paulus van der Merwe, onse Basjan. Hy is in sy eie woorde ‘n polisieman emeritus, en van nature erg befoeterd. Ek vermoed hy is die oorspronklike ‘kroes, kras en kordaat’ Afrikaner van wie Dr Willem de Klerk geskryf het. Dis waarom hy nie as Koos bekend staan nie. Dit sou regtig dom wees om na hom te verwys as ‘Koos van der Merwe’.  Ek en Basjan sit in ‘n koffieplekkie op Hartenbos en, soos dit maar gaan wanneer jy polisiemense uit die Baby Boomer–era bymekaar uitbring, praat ons oor ons ou polisiedae. 

Ons onthou ‘n Krugerdag-parade op Kerkplein in Pretoria in die vroeё sewentigs.  Elke jaar op 10 Oktober, op ou President Paul Kruger se verjaardag, was daar ‘n amptelike parade op die Plein gehou. Dan was die Weermag in al sy glorie daar, orkeste, marsjerende soldate, motorfietse, die hele lot.  “Man” vertel Basjan, “hulle was oral onthou jy? Hulle doen die straatbelyning, hanteer die gaste se parkeerareas, slaan tentjies vir hulle medics op, loop rond, lyk belangrik en maak in die algemeen of hulle die land besit. Hierdie klomp het so ‘n potsierlike petjie op die kop, daardie lot dra ‘n skewe berѐtjie. Ou Floors het gereeld laat hoor dat hy kan sien wie se Minister is die Straatspresident se tjom” vertel Basjan.  

Maar ons, die Polisie, was ook daar. Ons orkes was enige tyd net so goed soos enige een uit Weermaggeledere, en ons kon beter dril as die soldate. Altans, so het ons vir enigeen vertel, of diegene nou wou weet of nie. En ons het ‘n voorsprong gehad, ‘n opperhand. Ons opperhand, dit waarmee ons die vertonerige soldate kon help om ‘n reputasie-beskermende taktiese onttrekking te doen, was ons Berede Vertoongroep. Ruiters en perde was met die hand uitgesoek, wêreldwyd bekend op voorblaaie, die voorkeur berede-eenheid vir die Parlementsopening.

Daar was nog altyd ‘n verhouding tussen die drilmanne en die berede manne. Baie berede manne was ook drilinstrukteurs, en heelwat drilinstrukteurs het ook perd gery. Ons het poetse op mekaar gebak, klippe in mekaar se pad gerol, en mekaar se hand in die as geslaan met die meisies. Maar eintlik was ons ‘n span, goed-geolie, ondersteunend van mekaar en ‘n kollektiewe wenner by openbare vertonings.

Ou Bosluise (dis nou ons naam vir berede manne) praat nou nog met ontsag van ons perde. Hierdie een het sersant Mik-en-Steek daar gaan haal met iemand anders se horse box want die stalle s’n was stukkend omdat konstabel Hier-en-Daar by die store nie die regte vorm uitgereik het nie die temerige blikskottel. Daardie perd het hier by die stalle aangestap gekom, en gevra vir ‘n aansoekvorm om by die Polisie aan te sluit. En ‘n goue vulpen, want hy sou nie sy naam met ‘n gewone balpuntpen teken nie. Hierdie perd het, na bewering, uiteindelik maar ‘n potlood gebruik, want die mens heers oor die diere en nie andersom nie al is ons baie lief vir hulle. ‘n Ander perd het ‘n houdinkie gehad, waarop ‘n waardige ou Bosluis die perd bewusteloos geklap het. Hy (dis nou die ou Bosluis) het vingers soos piesangs gehad, en ‘n MBE. Toe hy (dis nou die perd) bykom, was hy so mak soos ‘n vulletjie.

Ons ou dril-manne het natuurlik geweet dat baie van hierdie stories op Vrydagaande vertel was. In die onder-offisiere se kantien, met ‘n ietsie of so in die hand …

Maar tog praat mense nou nog, meer as vyftig jaar later, van Brigadier Louis Snyman op die wit pronkende Fleur langs die swart Mercedes Benz van die Staatspresident. En ook van hierdie wonderlike klomp perdemanne, hul kantienstories ten spyt. (Foto – LG Snyman)

Ook by hierdie Krugerdagparade was ons Bosluise en hul perde teenwoordig. Hulle het aan die binnekant van die Plein opgevorm, reg voor die ou President se aangesig, langs ons wat die drilpeloton vir die besondere dag was. Ons Bosluise het darem iets gehad om op te sit. Ons drilmanne net ons eie voete.

“Ewenwel”, sê Basjan, “op hierdie dag was Vic Muller, Floors van Wyk en ek die kortste ouens in die peloton. Ons was dus die heel middelste drie in die peloton, Floors in die voorste gelid, ek reg agter hom en Vic in die agterste gelid”.

Kerkplein – Foto: HBH

Uit Basjan se vertelling hoor ek van ‘n drukkende hitte op Kerkplein daardie oggend. Die ou mense het blykbaar gesê dat dit minstens op 10 Oktober in die Transvaal moet reёn, anders sou dit ‘n verskriklike droё jaar wees. Hulle het blykbaar ook gesê dat die groot reёn slegs kan kom as die groot bedompigheid op 10 Oktober oor Pretoria daal.  “Dit was uiters bedompig toe ons opmarsjeer”, sê Basjan. “Die sweet het ons afgestroom. Ons pelotonsersant het onderlangs gemaan dat ons versigtig met die gewere moet werk. ‘n Natgeswete hand, en ‘n gepoleerde stuk blink bakeliet kan moeilikheid wees vir ons klompie Weermag-drilaanvatters. ‘n Geweer wat uit die hand uit val sal ‘n verskriklike skande wees”.

“Toe ek later terugdink, kom ek vaagweg onthou dat die sersant met ons gepraat het oor die hitte, die bedompigheid en dat mense op parade maklik flou word. Hy het gesê dat ons gereeld ons tone moes wikkel binne-in ons skoene, reёlmatig en bewustelik moes asem haal en met onsself in ons koppe moet praat. Ek dink dis by hierdie laaste een wat ek besluit het om nie sondermeer altyd na die serant se aanbevelings te luister nie. Maar toe die sersant vir ons vertel dat ons onmiddelik op ons hurke moet gaan sit wanneer ons voel ons wil uitpass, het ek heeltemaal opgehou om na hom te luister”.

Ek kan my net indink: Basjan en sy maters sou mos nooit gaan sit en daarmee duidelik ‘n swakheid te kenne gee nie. Nie in hierdie ‘ons-is-beter’-ding met die Weermag nie … “En as jy uitpass en val kan jy maar net sowel begin drink – jy sal die skande nooit nugter kan oorleef nie” het die sersant blykbaar ook gesê.

So met die peloton se opstap het die manne hul omgewing beloer. Op die dag was die mans oorwegend in das, baadjie en hoed geklee. Die vrouens was netjies aangetrek, hoede op die kop, handsakkies aan die arms. Daar was baie mense, en baie sambrele want selfs al was dit nog net tienuur in die oggend het daar geen luggie gewaai nie en het die son reeds neergebak.

“Uiteindelik kry ons ons staan, skuins aan Oom Paul se linkerkant, in lyn met Kerkstraat. Die ou President se Volksraadsgebou is voor ons, aan die buiterand van die Plein knap oorkant die sirkelpad wat rondom die Plein loop. Dis ‘n pragtige ou gebou en ons drie, dis nou Floors voor, Vic agter en ek in die middel, praat so skuinsmond daaroor onder mekaar sonder om ons koppe te draai. Ek fluister oor die mooi van die ou Nederlandse Bank-gebou. Vic verduidelik meer oor die Belgiese wafels van die Belgiese vrou wat die Belgiese restaurantjie aan ons regterflank op die hoek bedryf. Intussen stroom die sweet ons af. As daar kraaie op die Plein was, sou hulle sekerlik gegaap het. Ons hoor wel ‘n binnensmondse gevloek toe een van die alomteenwoordige duiwe vir Floors raakblerts, netjies op die regtermou van sy uniform soos wat sy arm skuins na vore uitgestrek is om die geweer vas te hou”. Dit voel vir my of Basjan ‘n grammofoon ingesluk het, sò praat die man.  

“Maar ons staan, en ons staan” sê Basjan, “en ons sweet en ons roer ons tone, en so aan”.

“Die volgende oomblik val ‘n Weermagdrommer skuins voor ons, reg langs Oom Paul se monument. Dis drom, snare, wit lyfband, stokkies en wie weet wat nog. En ons sersant maan met asemhaal en tone roer en in-die-kop-praat hier van agter af. Ons Bosluis-maters aan ons linkerflank fluister gedempte raad: “vasbyt manne!”, “amper verby!”, “dink aan die bier hierna …”

“Die Weermagkapelaan begin bid, en hiervandaan is dinge vir my ietwat wasig” vertel Basjan. Maar ek onthou, net so voor ‘amen’, toe val Floors, met ‘n rumoerige gekletter, hier reg voor my. Ons reputasie daarmee heen”.

Ek hoor van Basjan hoe die Weermag se medics hardloop, swaaiende sakkies en al, en ek dink oor ironie.

“Maar hier tussen die eregaste, op ‘n mooi oorgetrekte stoeltjie, staan ‘n tannietjie op. Die pragtigste ou tannietjie. Pers haartjies, blom-uitrustingtjie, swart handsakkie aan ‘n dun armpie met ‘n fyn goue horlosietjie”.

Ek luister gespanne na Basjan. Was sy dalk ‘n afgetrede dokter, bekommerd oor die jong polisieman wat so geval het? Weet sy dalk oor die wedywering met die Weermag?

“Hier”, sê die tannietjie, “ek het skoon brandewyn in my flessie, gee hom ‘n goeie skeut in”. “Snuif hier” sê die medic, buisie in die hand. “’n Goeie skeut brandewyn”, herhaal die tannietjie. “Klap hom so liggies deur die gesig” beveel ‘n ander medic aan. “Brandewyn!” kom dit nou dringend van die tannietjie af.

“Dis net daar waar Floors sy kop oplig”, sê Basjan.

“Idiote!” bulder Floors, daar van die grond af. “Maak tog oop julle ore en luister vir die tannie!”

OoO

*Baby Boomer – polisiemanne en -vroue sal die algemene trant en boodskap van hierdie storie wel ken. Dits is tog maar, in die een of ander vorm, deel van die kultuur rondom die polisie se beroepsomgewing. Indien daar ‘n genre bestaan vir historiese polisie-kortverhale, is dit sekerlik een hierdie. Ek skryf dit egter neer omdat ek bang is dit raak verlore. En dalk maak die lees daarvan iewers ‘n Baby Boomer polisievrou of -man glimlag … 

(Hartenbos, 17 November 2024)

*