Dr. Danie Langer, Voortrekkermonument, Pretoria. Aangestuur, Bertus Steenkamp.
Abstrak: Suid-Afrika se toekoms in perspektief. Foto: ‘n Voortrekker bespied die horison.
Die Voortrekkermonument staan nie net as ‘n klipstruktuur op Pretoria se heuwels nie. Dit is ‘n uitroepteken van durf, ‘n bewys van mense wat gekies het om nie terug te kyk nie maar vorentoe te beweeg, ten spyte van die uitdagings wat oor hul pad gekom het. Die Voortrekkers van ouds het nie na Europa teruggevlug toe hul plase gebrand is en hul gesinne bedreig is nie. Hulle het hul waens gepak, oor onbekende horisonne getrek en hul tentpenne dieper in Afrika se harde grond ingekap. Hul spore is gegraveer in die kontoere van berge en vlaktes, ‘n nalatenskap wat nie uitgevee kan word nie.
Uit daardie vasbyt-gees het ‘n volk ontstaan – die Afrikaner. Ons voorouers het hulself nie net as inwoners van hierdie kontinent gesien nie, maar as deel daarvan. Hul taal, Afrikaans, is ‘n lewende bewys van hierdie verbondenheid. Dit is ‘n taal wat hier gebore is, tussen die sandsteen van die Karoo en die golwende grasvelde van die Vrystaat. ‘n Taal van gesinne en gemeenskappe, van boerdery en besigheid, van hoop en hartseer.
Afrikaners was nooit vlugtelinge nie. Nie in die verwoestende Anglo-Boereoorlog nie, nie in die skadu van die Groot Depressie nie en ook nie toe Afrika in die na-oorlogse era deur die storms van dekolonialisasie gegaan het nie. Ons het bly bou, bly glo, en bly groei. Ons is ‘n volk van pioniers en bouers. Mense wat nie terugsit en skrik vir moeilike tye nie, maar nuwe paaie uitkap waar daar voorheen niks was nie.
Na 1994 het Suid-Afrika weer verander. Die ANC het die mag oorgeneem van n land wat die ekonomiese reus van Afrika was met n wêreldklas geoliede infrastruktuur, vanaf goeie hospitale en klein dorpies tot spoorlyne wat kruis en dwars oor Suid-Afrika geloop het. Die ANC het deur rasgebaseerde wetgewing Afrikaners uit die staatsdiens gestoot. Toe het hulle op die soustrein geklim en later openlik geplunder totdat groot, eens suksesvolle staatsondernemings bankrot gesteel is.
Waar die regering struikel, het ons opgestaan. Ons het nie gehuil oor wat verloor is nie, maar eerder gekyk na wat geskep kan word. Nuwe sakeondernemings het uit die grond gespruit, nuwe ekonomiese horisonne is verken. Toe korrupsie en wanbestuur die land se toekoms steel het ANC leiers magnate geword terwyl hulle swygend wegkyk van onreg en staatskaping, terwyl hulle kiesers die meeste onder korrupsie ly. Toe het Afrikaners opgestaan vir ‘n Suid-Afrika waar elkeen, ongeag ras of herkoms, veilig, vry en voorspoedig kan leef. Dit is ons ideaal en dit is waarvoor ons werk.
Ons skole en universiteite word deur wetgewing soos BELA geteiken, maar ons antwoord met inisiatief en vasberadenheid. Ons skep n Afrikaanse toekoms deur nuwe skole en opleidinginstellings, ons versterk gemeenskappe en ons koester ons taal en kultuur met die trots van mense wat weet wie hulle is en waar hulle hoort. Wanneer erfgrond bedreig word deur onteiening sonder vergoeding, wanneer wit kruise uitroep teen geweld en tragedies op plase antwoord ons nie met wanhoop nie, maar met daadkrag. Ons plant bome, ons saai gewasse, ons bou vorentoe.
Ons is vasbeslote om ‘n toekoms vir ons kinders te skep, nie net omdat dit ons reg is nie, maar omdat dit ons roeping is. Ons is lief vir ons land, nie uit blinde patriotisme nie, maar uit ‘n diepe verbondenheid met die grond, die mense en die geskiedenis wat ons gevorm het. Die onbekende Voortrekker wat na die horison kyk inspireer my. Ons is daardie Voortrekker. Ek het net een land en een paspoort. Dit is hier, in Afrika, waar my wortels lê. Hier gaan ek bly. Hier gaan ek bou. Hier gaan ek leef.
*

GENL MAJ BERTUS STEENJAMP is die skrywer en medeskrywer van heelwat artikels oor Suid-Afrika se geskiedenis, onder andere ‘Omstrede Land – Historiese Ontwikkeking van die Suid-Afrikaanse Grondvraagstuk, 1652-2011 saam met Louis Changuion. As deelnemer en medewerker ondersteun hy ook die volgende publikasies:
- Hilton Hamman : Days of the Generals. 2001
- Jeanette Ferreira : Grensoorlogstories. 2012
- Jeanette Ferreira : Boereoorlogstories – Verhale oor die Oorlog van 1899-1902. 2012
- Werner Weber ; The South African Land issue. 2015
- Bertus Steenkamp. Naweë van die ABO. ABO Monument Trust. 2016
Bertus se belangstelling is militêr/historiese artikels; waaronder militere intelligensie, die Anglo Boereoorlog, Suid-Afrikaanse Grondregte, Transformasie en die Grensoorlog. In 1990 was hy die naaswenner van Barcom-kompetisie vir artikels met ‘n militêre tema. (Disinformation – The War war of Words). In 2016 was hy spreker by Universiteit Stellenbosch se Afrikaanse Woordfees met “Die Naweë van die ABO – Is die ABO vandag nog relevant ?,” as tema.