Die Ontwikkeling van ‘n eie Suid-Afrikaanse Intelligensiekunde (Agtien))
Die herarrestasie van Abram Fischer
Op 25 Januarie 1965, na ’n lang verdaging van die hofsaak waartydens Abram Fischer op borgtog was, het hy versuim om by die hof op te daag. Fischer het egter ’n brief aan sy advokaat, H. Hansen, geskryf waarin hy verklaar dat hy weier om deur die hof verhoor te word. Ook dat hy voortaan ondergronds gaan werk, maar wel in die land sal wees. Adv. Hansen het Fischer se brief, wat Fischer oornag op Hansen se tafel in sy kantoor langs die hof gelaat het, aan ’n geskokte hofsaal voorgelees. Adv. Hansen was woedend vir Fischer en het net nadat hy die brief aan die hof voorgelees het, as Fischer se regsverteenwoordiger bedank. Adv. Vernon Berrangé, ’n Kategorie D-gelyste kommunis, het Hansen as Fischer se regsverteenwoordiger vervang en Fischer se verdediging teen die staat se klagstaat verder hanteer. Omdat vermoed is dat Fischer steeds in Johannesburg of die onmiddellike omgewing van die Goudstad verkeer het, is die hele Witwatersrand deur Republikeinse Intelligensie en die Veiligheidspolisie in blokke verdeel en gefynkam. Bram Fischer was egter nêrens te sien nie, omdat hy in die Rustenburg-omgewing in ’n tuinwoonstel van ’n mediese dokter Raymond Milindton, geskuil het. Deur harde spanwerk, genadelose selfdissipline en onselfsugtige opoffering, het polisielede bykans tien maande lank alles in die stryd gewerp om Fischer op te spoor. Ondertussen is Fischer deur ’n vroulike lid van die Kommunistiese Party na ’n afgesonderde plaas naby Rustenburg geneem waar hy ’n algehele voorkomsverandering ondergaan het. Hy het ’n streng dieët en ’n fiksheidsprogram gevolg, sy hare met ’n diep bles geskeer en ’n snor en baard laat groei wat hy swart gekleur het. Fischer het ’n ronderaambrilletjie begin dra en letterlik ’n persoonlike metamorfose ondergaan. Bykans drie maande na sy verdwyning het hy as ’n afgetrede sakeman, Douglas Black, na Johannesburg teruggekeer. Hy het in Corlettrylaan 215, naby Bramley se sakesentrum gaan woon. Drie vroue, Gabrielle Veglio de Castelleto (wat die alias Ann Getfliffe gebruik het), Violet Weinbergh en Leslie Schermbrȕcker, wat die eggenotes van die kommuniste Eli Weinbergh en Ivan Schermbrȕcker was, het as skakels tussen Fischer en die buitewêreld opgetree. Al hierdie tussengangers was ook lede van die nuutaangestelde Sentrale Komitee van die SAKP.
Republikeinse Intelligensie het nie geslaap nie
RI was nie aan die slaap nie en het met ’n proses van uitskakeling begin, sodat hulle na enkele maande seker was van die persone wat gereelde skakeling met Fischer gehad het. ’n Vierde vroulike SAKP-lid, Pat Davidson, het onbewustelik die polisie tot by Fischer se rooidakwoning in Corlettrylaan, Bramley, gelei. Issy Heyman, wat gereeld tyd in polisieselle deurgebring het as gevolg van sy ondergrondse kommunistiese bedrywighede, was agterlosig en het tydens ondervraging uitgeblaker dat as die polisie vir Bram Fischer soek, hulle vir Violet Weinbergh moet vra. Violet Weinbergh is op 8 November 1965 gearresteer en het tydens aanhouding gesê sy kan nie “sê” waar adv. Fischer destyds geskuil het nie. ’n Lid van die Spoorwegpolisie se Veiligheidsafdeling het toe vir haar ’n pen in die hand gestop en papier gegee. “Skryf dit, as jy dit nie kan sê nie!” Sy het geknak en die adres waar Fischer geskuil het so aan die polisie bekend gemaak.
Die herarrestasie van Abram Fischer
Ná Violet Weinbergh se betraande bekentenis, is Fischer se wegkruipplek in Bramley en sy enkele inwoner vir weke dopgehou, totdat daar absolute sekerheid rakende Fischer se identiteit was. RI wou ook vasstel wie Fischer se kontakte en ondergrondse netwerke is, veral omdat Fischer van tussengangers en akkommodasie-adresse gebruik gemaak het om met mede-SAKP-lede te kommunikeer. Op 11 November 1965 verlaat Fischer sy huis en in sy motor wat toevallig enkele maande tevore nog aan ’n konstabel Botha van Clevelandpolisiestasie behoort het. Fischer het na ’n nabygeleë poskantoor gery om vyf briewe te pos, terwyl hy onbewus was dat hy deur talle lede van die Veiligheidstak omring was. Eers toe Fischer se motor van die pad af gedwing is, het hy gelate besef dat sy speletjie verby was. Fischer is deur Roelf van Rensburg en Kalfie Broodryk aangekeer. “Roelf het my die hele verhaal vertel van die arrestasie wat deur hom en wyle Kalfie Broodryk uitgevoer is. Hy het Bram fisies gearresteer in die teenwoordigheid van Kalfie Broodryk. Genl. Mike Geldenhuys, hoof van RI in Johannesburg, was direk na die arrestasie gou op die toneel. Kalfie Broodryk het Bram Fischer positief op die toneel uitgeken aangesien hulle mekaar goed geken het.” Genl. Van den Bergh het Fischer se arrestasie, wat wêreldwyd media-opslae gemaak het, soos volg opgesom: “Toe Fischer weggeraak het, het hy gedink hy het die Veiligheidspolisie om die bos gelei. Hy het gedink hy het met ’n klomp bobbejane te doen gehad. In werklikheid was dit net andersom. Ons kon op hom toegeslaan het, maande voor ons dit gedoen het.”
Benewens regeringsreaksie op die kommunistiese aanslag teen Suid-Afrika vanuit ANC- en SAKP-geledere, het daar in Augustus 1964 ’n siviele organisasie, die Nasionale Raad teen Kommunisme (NRK), in Johannesburg tot stand gekom.
Die voormalige kommissaris van polisie, genl. Mike Geldenhuys, het aan Hennie Heymans vertel dat Bram Fischer se jaarlange wegraak in 1965 by baie die gedagte gelaat dat hy die polisie uitoorlê het. In werklikheid het die RI sy loop- en lê-plekke lank in die oog gehou, maar deur doodhouergogga te speel, het hulle tegelyk op ’n paar van Bram se maats se spoor gekom. Toe die speletjie lank genoeg aangehou het, is bevel gegee om toe te slaan. “In daardie tyd het ons Bram al so goed leer ken soos een van ons eie manne,” was genl. Geldenhuys se veelseggende kommentaar.
“Fischer is ook skuldig bevind aan sameswering om sabotasie te pleeg”
Abram Fischer is in Mei 1966 tot lewenslange tronkstraf gevonnis, net ses weke nadat H.F. Verwoerd en die Nasionale Party die algmene verkiesing van 30 Maart 1966 met ’n oorweldigende meerderheid wen. Na afloop van Fischer se skuldigbevinding en tronkstraf het ’n grootskaalse hergroepering in die SAKP plaasgevind met die verkiesing van ’n nuwe Sentrale Komitee. ’n Nuwe groep jong kommuniste het te voorskyn gekom om Dadoo, Fischer en Slovo se plekke in te neem en by die drie Johannesburgse selle van die SAKP aangesluit, onder andere Sylvia Neame, Florence (Flo) Duncan, Molly Doyle en Lewis Baker. In Februarie 1974 word Fischer met kanker gediagnoseer en sy broers, Paul en Piet, nader die leier van die opposisie, sir De Villiers Graaff, om as tussenganger met die minister van justisie, John Vorster, op te tree. Vorster, wat Fischer as jong man geken het, omdat hulle albei as advokate lede was van die Johannesburgse balie, het ingestem dat Fischer om menslikheidsredes in die sorg van sy broers vrygelaat kan word. Fischer het in Maart 1974 by sy broers, dr. Paul Fischer en Piet Fischer (terloops, ’n Jehova-getuie), in Bloemfontein gaan bly. In April 1975 is hierdie eens briljante advokaat en geharde kommunis aan kanker oorlede.
In 2011 is Ludi se ’n boek, The communistisation of the ANC, oor sy spioenasiebedrywighede en ondervindinge gepubliseer. Die vier jaar wat Ludi gewy het aan die infiltrasie van die SAKP is deur een joernalis vergelyk met ’n James Bond-verhaal. Hy is ook bestempel as “the state’s star witness in the case against Bram Fischer” en selfs as Suid-Afrika se “super spy” beskryf. Hoewel sommige meen dat Ludi die belangrikste én suksesvolste Westerse agent in die infiltrasie van die SAKP was, is ander nie oortuig daarvan nie en beskou dié spioen bloot as ’n verraaier wat selfs sy eie vriende versaak het. Nadat Ludi in Fischer se hofsaak getuig het, was sy identiteit as spioen ontbloot.
Die werk van RI het na die suksesse by Rivonia en in die Bram Fischer-saak voortgegaan, met diepte-ondersoeke na sy hoof intelligensieteikens, die ANC, SAKP en die PAC. “Infiltration by spies and informers, constant surveillance, bugging of offices and houses, tapping of telephones and the interception of post became commonplace.” Met inligting uit sy ondersoeke in pag, arresteer die Veiligheidstak in 1964 drie SAKP-lede wat nie by Rovonia teenwoordig was nie en die bedrywighede van MK voortgesit het. Mac Maharaj, later pres. Zuma se segsman, word saam met David Kitson en die nuwe opperbevelvoerder van MK, Wilton “Bri-Bri” Makwayi, gearresteer en van terrorisme aangekla. Tydens die “Klein Rivonia-saak” in Pietermaritzburg, besluit twee senior MK-lede, Bruno Ndlovu en Stephen Mtshali, om staatsgetuienis teen hulle medepligtes te lewer, waarna Bily Nair, Ebrahim Ismail en David Ndawonde skuldig bevind en gevonnis word ingevolge die Sabotasiewet.
Genl. Van den Bergh som die sukses van die Rivonia-klopjag op die SAKP en MK-opperbevel in sy boek, No Ships in the Harbour, soos volg op:
“In July 1963, the South African Police raided a farm just north of Johannesburg and captured the “National High Command” of the Spear of the Nation. The raid also produced a fascinating document, “Operation Africa Mayibuye” (freely translated, this means Operation for the Return of Africa). This document contained a detailed plan, worked out by Fidel Castro during the Communist revolution in Cuba, for thousands of trained terrorists to trigger a violent uprising in South Africa, followed by an armed invasion by military units of foreign powers. Within three years, the vast Communist infrastructure so painstakingly built up in South Africa by Moscow’s agents over several decades, had been smashed and radical leaders, both black and white, either behind bars or in exile. The country itself was on the road to unprecedented economic advancement and multi-ethnic development. Of all Soviet setbacks in Africa during the 1960s, those suffered in South Africa were by far the most severe.”
Geheime besoek aan die VSA
In 1964 vertrek genl. Van den Bergh op die eerste van twee geheime besoeke aan die VSA, wat hy as ’n vriend van Suid-Afrika beskou. Van den Bergh ontmoet James (Jim) Angleton, hoof van die CIA se Chief Directorate Counter-intelligence en vestig skakelverhoudinge met die CIA wat met die Angolese oorlog vanaf 1975 van onskatbare waarde vir Suid-Afrika was. Daardie skakelvehoudinge tussen die intelligensiedienste van die VSA en Suid-Afrika duur vandag nog voort. Van den Bergh ontmoet ook vir John Foster Dulles, kleinseun van genl. John Foster wat sekretaris van buitelandse sake was in die administrasie van pres. Benjamin Harrison. Aan die einde van 1964 besoek Van den Bergh Washington DC vir ’n tweede keer, vergesel van Mike Geldenhuys, Piet van Wyk en Willie Willers, wat agterbly om ’n basiese intelligensiekursus by die CIA by te woon. Ná die opleiding word Willie Willers na die Suid-Afrikaanse Ambassade in Massachusetts Avenue teruggestuur en open so die RI-kantoor in die VSA. RI knoop ook skakelverhoudinge met die Portugese Intelligensiediens, PIDE, aan en ontvang toestemming om ’n RI-kantoor in Luanda, Angola, te open. RI slaag daarin om ’n lid onder dekking in Swaziland te plaas, nadat die land in Februarie 1964 volle onafhanklikheid van Brittanje verkry. Swaziland word kort hierna ’n belangrike deurgangsroete vir ANC/SAKP/MK-lede wat Suid-Afrika vanaf Mosambiek probeer infiltreer.
Ten spyte daarvan dat MI6 met republiekwording skakelverhoudinge met die SAP-VT beëindig het, gaan skakeling met MI5 voort deur skakelmateriaal uit te ruil. RI bekom in 1964 inligting (wat hy met die Britte deel) dat ’n groep van ongeveer 300 Suid-Afrikaners, onder aanvoering van Joe Modise, Moses Mabhida en Joel Klaas, in Odessa in die Sowjetunie aangekom het waar hulle opleiding in guerrilla-oorlogvoering van die Russe ontvang. Die opleiding word deur Oliver Tambo, J.B. Marks, later leier van die SAKP, en Moses Kotane, algemene sekretaris van die SAKP, vanuit die ANC se kantoor in Dar es Salaam gereël en gekoördineer.
*
* In DIE BURO: Genl. Lang Hendrik van den Bergh en die Buro vir Staatsveiligheid, wat deur Imprimatur Uitgewers gepubliseer word, is daar ware Suid-Afrikaanse spioenasieverhale wat die waarde van agente en spioene illustreer (HUMINT), en ook die enorme skade wat hulle somtyds aanrig, onder die soeklig plaas. Die enigste werklike meetinstrument van die sukses van ’n spioenasiediens is die mate waarop hy of sy die geskiedenis beïnvloed het, of nie. Die Buro vir Staatsveiligheid het ’n invloed op die Suid-Afrikaanse geskiedenis gehad en verdien om onthou te word. Indien enige van ons lesers oor relevante inligting oor die ontwikkeling van spioenasie in Suid-Afrika, beskik, word u hartlik uitgenooi om enige inligting en fotos aan intel@nongqai.org te stuur.
* Die artikelreeks Intelegere bevat 982 bronverwysings en voetnotas, wat op aanvraag van die skrywer bekom kan word. ‘n Verkorte weergawe van die verhaal van Dieter Felix Gerhardt en Ruth Johr verskyn in die boek Spioenmeesters, wat op Amazon verkrygbaar is.
* Word in die volgende Nongqai vervolg.
* Voorafbestellings vir DIE BURO kan by Imprimatur Uitgewers geplaas word.
*
![](https://nongqaia9922150f9.blob.core.windows.net/blobnongqaia9922150f9/wp-content/uploads/2025/02/DIE-BURO-VBLAD.png)