
DIE BURO VIR STAATSVEILIGHEID AS SUID-AFRIKA SE EERSTE SENTRALE INTELLIGENSIE-VERWERKINGSDIENS
Dr. Willem Steenkamp
ABSTRACT: South Africa’s Bureau for State Security BfSS, founded in 1969, was its first central intelligence agency and though it supposedly was closed down and replaced by the National Intelligence Service NIS under premier PW Botha, in essence the NIS was just a continuation of the BfSS under another name, building on the foundation laid under the aegis of the Bureau.
KEYWORDS: Bureau for State Security, National Intelligence Service, Hendrik van den Bergh, John Vorster, PW Botha.
READ TIME: 6 min
AGTERGROND:
In die era van Unie en die “Wit” republiek (1910 – 1994) het die bedryf van intelligensie in Suid-Afrika twee fases beleef. Die eerste was dié van fokus op departementele intelligensie, synde die insameling en verwerking van veiligheidsinligting onderskeidelik deur instansies soos die Departement van Buitelandse Sake, die Weermag en Polisie, wat dit gedoen het ter ondersteuning van hulle eie departemente se hoof-lynfunksies. Sonder dat daar institusioneel-geformaliseerde, gekoördineerde prosessering en vertolking was op nasionale vlak.
Die tweede fase was dié van nasionale intelligensie, toe daar besef is dat departementele inligting sentraal aangevul en gekoördineerd vertolk moet word, ten einde ‘n omvattende bedreiging-ontleding aan die politieke besluitnemers te kan voorlê.
VOOR-GESKIEDENIS:
Suid-Afrikaners se behoefte aan ‘n eie intelligensie-vermoë kom ‘n lang pad: van die dae van die Z.A.R. se afdeling Geheime Politie van die ZARPs, deur die koloniale era van die Unie – toe die Britte die kitaar geslaan het – na Republiekwording, toe die Britse model uiteindelik met die Amerikaanse vervang is.
Die Veiligheidstak van die S.A. Polisie (SAP-VT) is in 1939 gestig, kort voor die 2e Wêreldoorlog, geskoei op Scotland Yard se Special Branch. Die Unie-Verdedigingsmag het die oorlog ingegaan met ‘n beperkte intelligensie-vermoë en was hoofsaaklik van die Britte afhanklik. Die Dept. van Buitelandse Sake (DBS – wat eers in 1927 tot stand gekom het, na die Imperiale Konferensie van 1926 die statuur van die “wit” Gemenebes-lande as internasionale rolspelers in eie reg erken het) was ook geskoei op die Britse model, maar anders as die geval met die Britse Foreign and Commonwealth Office het die Unie se DBS nie ‘n eie intelligensie-komponent soortgelyk aan die FCO se komponent bekend as die Secret Intelligence Service of te wel “MI6” bevat nie (die SIS is organisatories ‘n afdeling van die FCO).
Kolonel Deneys Reitz het reeds vroeg gedurende 2e WO gepleit vir Suid-Afrikaanse intelligensie-koördinasie; die Britte wou nie eintlik byt aan die daarstel deru Suid-Afrika van bekoorlike eie institusionele eweknieë nie, maar daar is wel ‘n interdepartementele komitee geskep wat gereeld onder voorsitterskap van Prof. Ernst Malherbe byeen gekom het. Dit was egter ‘n oorlogtydse fenomeen wat ook baie op propaganda en die opbou van moraal gefokus was (nie net intelligensie nie). Die Britte het dus steeds die hoëvlakse insameling op internasionale terrein hanteer en het net gedeel dit wat hulle wou.
Die bewindsaanvaarding van die Nasionale Party-regering na die 1948-verkiesing het die Britte nog meer teensinnig gemaak om te nou betrokke te wees by Suid-Afrikaanse intelligensie-aspekte, alhoewel die Security Service (MI5) meer waarde daaraan geheg het om goeie bande te behou met die SAP-VT as wat die meer liberale SIS bereid was om te doen.
In die middel-vyftigs is toe besef dat ‘n eie nasionaal-geintegreerde Suid-Afrikaanse intelligensie-poging noodsaaklik gaan wees, in die aanvoor waarvan die destydse DBS onder sy Sekretaris, ambassadeur G.P. Jooste, ‘n leidende rol gespeel het – soos in die brief hieronder gesien kan word:
Betreffende die opdrag in 1957 van die destydse Eerste Minister adv J.G. Strijdom soos verwoord in die brief hierbo oor die handtekening van DBS-sekretaris Jooste, moet onthou word dat die Departement van Buitelandse Sake altoos direk onder die Eerste Minister geval het, met die premier wat ook gedien het as die DBS se eie minister. Soos die Kantoor van die Eerste Minister, was die DBS toentertyd ook gesetel in die Uniegebou – dit was eers in 1955 dat Mnr Eric Louw as die heel eerste selfstandige Minister van Buitelandse Sake aangestel is. Die DBS, met sy kennis van internasionale praktyke en inskatting van wat die toekoms gaan vereis, was dus goed geplaas om weer die kole rondom die behoefte aan ‘n intelligensie-vermoë aan te blaas (wat na die 2e Wêreldoorlog prakties doodgegaan had). Eerste Minister Strijdom is egter jonk oorlede (Augustus 1958) en sy opvolger, Dr. HF Verwoerd, het nie hierdie ‘n prioriteit gemaak nie.
Republiekwording in 1961 het uiteraard die Britte nog meer in hulle doppe laat terugtrek. Generaal H.J. “Lang Hendrik” van den Bergh (wat as jong polisieman gedurende die 2eWO sonder verhoor interneer is oor sy teenstand teen deelname aan die oorlog, saam met die latere premier Adv. John Vorster) het in 1960 hoof geword van die SAP-VT. Hy het goeie betrekkinge gehad met die Amerikaners (CIA) en ook met die Duitse Bundesnachrichtendienst (BND – wat self ook op die Amerikaanse lees geskoei was).
Ten einde te begin om ‘n eie intelligensie-kapasiteit daar te stel, het Genl. Van den Bergh in 1961 R.I. (Republikeinse Intelligensie) gestig, vanuit die SAP-VT. Na Adv. Vorster in 1966 Eerste Minister geword het, het die fokus op die noodsaak vir ‘n gekoördineerde sentrale intelligensie-kapasiteit verskerp en is die destydse Buro vir Staatsveiligheid (BSV) in Mei 1969 gestig.
FASE TWEE – DIE BSV AS NASIONALE INTELLIGENSIEDIENS:
Die behoefte aan ‘n sentrale intelligensie-vermoë wat die insameling en verwerking van inligting van nasionale (soos onderskei van departementele) belang as sy lynfunksie sou hê, is dus in die vyftigerjare reeds ingesien. Dit het uitgeloop het op die destydse Eerste Minister se opdrag in die brief hierbo. Institusioneel is egter eers aan hierdie idee behoorlik gestalte gegee met die daarstel van die Buro vir Staatsveiligheid in die laat-sestigs. Hierdie tweede fase het ‘n kontinuum daargestel, weliswaar gekenmerk deur struweling binne die “veiligheidsgemeenskap” en polities-dienstige naamsveranderinge, maar steeds ‘n kontinuum waarbinne gebou is op die fondasie gelê deur die instansie wat die naam “Buro vir Staatsveiligheid” gedra het. Hierdie kontinuum het geduur tot die ontbinding in 1994 van dit wat steeds essensieel die Buro was, alhoewel dit onder premier / president PW Botha bekend was onder die naam van die Nasionale Intelligensiediens (NI).
As gevolg van interne struwelinge tussen die lede van die “intelligensie-gemeenskap” (veral die SAW en die BSV) is ‘n kommissie onder leiding van Regter Potgieter in September 1969, vier maande na die daarstel van die BSV, aangestel om met voorstelle te kom oor die oorhoofse strukturering van Suid-Afrika se intelligensie-gemeenskap. Na deeglike ondersoek het dit uitgeloop op die Wet op Veiligheidsinligting en die Staatsveiligheidsraad van 1972, waarkragtens ‘n Staatsveiligheidsraad daargestel is. Hierdie wetgewing het die sentrale koördinasie-rol aan die BSV toegeken.
Steeds was dit die einde niet van die interne struwelinge, wat ook duidelik gemotiveer was deur persoonlike mag-sug onder die regeringsleiers van destyds.
Dit het trouens kort daarna aansienlik vererger, rondom veral die SAW se inval in Angola in 1975, en is tot ‘n punt gedryf met die ondermyning en uiteindelike bedanking van Eerste Minister Vorster, danksy die “Inligtinskandaal” wat anoniem gelek is in ‘n vroeë weergawe van wat vandag “lawfare” genoem word.
Hierdie bloedlose “paleis-rewolusie” het in wese Suid-Afrika gestroop van sy destydse professionele kapasiteit om die ware aard van die aanslag (wat aller-oorheersend ‘n politieke propaganda-stryd was), effektief te beveg. In die plek van die politieke stryd te veg op veel-al die slagveld van propaganda, het daar onder PW Botha ‘n oordrewe klem gekom – ook begrotingsgewys – op militêre postuur en kapasiteitsbou. Dit het o.a. die SAP aan die agterspeen laat suig ondanks dat die Polisiemag die instelling was wat primêr die aller-noodsaaklike binnelandse stabiliteit moes handhaaf.
Die Wet op Veiligheidsinligting is vervolgens onder PW Botha verwring om die koördinasie-funksie onder effektiewe militêre beheer te kry, via die “seekat” van die Nasionale Veiligheidsbestuurstelsel (NVBS); dit is eers aan die einde van die Botha-bewind uiteindelik tog weer wetlik-korrek teruggeplaas by die Nasionale Intelligensiediens (die opvolger van die BSV). Die NVBS is vervolgens deur president FW de Klerk ten regte vervang met ‘n burgerlike Nasionale Koördineringsmeganisme wat weer die burgerlike / kabinetsrol in ere herstel het (LW: die persepsie dat Pres. De Klerk die NVBS afgeskaf het sonder om iets baie doelmatig in die plek daarvan te stel, is dus heeltemal onjuis – sien die NONGQAI van Desember 2021 en spesiale uitgawe van dieselfde maand: Vol 12 No. 12A).
DIE BURO WAS STEEDS DIE HART EN NIERE VAN SY OPVOLGER, NI:
Dit is ‘n feit soos ‘n koei dat die fondasies daargestel in die Buro-era, dit was waarop in die NI-era voortgebou is. Vir die “ou hande” op lessenaar-vlak byvoorbeeld, het dinge oor die jare nie verander nie: dieselfde spesialis-gebied, waarskynlik dieselfde fisiese kantoor in dieselfde gebou van ouds, met bes moontlik steeds dieselfde afdelingshoofde en direkteure – met net die instansie se naam en dié van die topleier wat in wese verander het.
Die Buro self was egter nie net maar ‘n voortsetting van die Veiligheidstak van die Polisie nie (al het heelparty van sy lede aanvanklik vandaar oorgekom). Binne die BSV is daar vanuit die staanspoor klem gelê (veral deur generaal Van den Bergh self), op die burgerlike aard van die nuwe instelling, ontdaan van range en sonder enige uitvoerende funksies of magte – net maar gefokus daarop om die betroubaarste moontlike intelligensie-produk eerlik en tydig tot politieke besluitnemers se beskikking te stel, sonder doekies omdraai. Selfs simbolies is hierdie kultuur benadruk, met die aandrang op die dra van pakke deur BSV-personeel en die toelaat (ooreenkomstig daardie jare se mode) van lang hare en baarde na eie keuse. Die werwingsfokus het dan ook dadelik geskuif na inbring van personeel met die nodige akademiese bekwaamheid. Want die strek-wydte van die breë bestek wat nasionale veiligheidsinligting behels, is vanuit die staanspoor ingesien – van ekonomiese intelligensie enersyds, tot antropologie andersyds.
Ook is die tegnologiese basis vir heelparty van die latere NI-suksesse reeds in die Buro-era gelê, veral wat betref rekenaarisering. Die daaglikse rapporteringstelsel bekend as NIFS (Nasionale Intelligensie Flitse en Sketse) is byvoorbeeld aangevoor reeds in die Buro-dae, asook die vaardigheid om komper-tegnologie in te span vir data-insameling, waarvoor die Intelligensiediens onder sy internasionale eweknieë hoë agting sou verwerf.
Veral die etos van inligting waarheidsgetrou aan besluitnemers voorhou (ongeag of die inhoud hulle sou geval, al dan nie) is in die Buro-era reeds gevestig. Hierdie werklikheidsbewussyn en realisme onder sleutel-personeel wat uit die Buro-dae die instansie bly bou het, is wat gelei het tot die Buro/Intelligensiediens se heel belangrikste bydrae (waarvoor die land en mense groot dank verskuldig is). Daardie leierskap, toe al met dekades se ervaring en insig, het in die tagtigs besef dat die grootste bedreiging vir interne stabiliteit en inter-groep harmonie (en diengevolg vir nasionale veiligheid) in werklikheid die gevolg was van hoe die destydse regering se rasse-beleid deur die oorgrote meerderheid van die landsbevolking ervaar is. Dit is dan ook hierdie NI-analiste gevorm in die Buro, wat in hulle intelligensie-produk uiteindelik hierdie kern-boodskap kon tuisbring by die politici – waarmee heel waarskynlik ‘n bloedbad voorkom is.
Dus, alhoewel die sowat dekade-lange bestaan van “Die Buro” weliswaar kort was, was sy “heengaan” hoegenaamd nie die einde van die werklike lewensverhaal van die instansie wat aanvanklik onder die BSV-naam die lig gesien het nie. In sy wese, het die Buro bloot onder nuwe betiteling bly voortbestaan en is daar tot 1994 nog groter hoogtes bereik, danksy die fondasie wat in die “Buro”-jare gelê is.
